Gemeenskapsriglyne

Welkom by Tinder!
Tinder is waar betekenisvolle verbintenisse kan plaasvind. Dit begin met 'n Veeslag. Soms kliek julle. Soms kliek julle nie. En soms lei die gesels tot meer. Daar is 'n oorvloed geleenthede. Moontlikhede is eindeloos. Alle (volwassenes) is welkom om te kom verken.

Ons wil hê Tinder moet 'n prettige, veilige en inklusiewe ruimte wees waar enigiemand hulself kan wees terwyl hulle ander leer ken. Dit is waarvoor hierdie Gemeenskapsriglyne is – om verwagtinge te stel wat betref almal se gedrag, beide op en buite die toepassing. Lees dus verder; as jy nie hierdie riglyne volg nie, kan dit werklike gevolge hê – van 'n herinnering tot verbanning.

Tinder-reëls:

1. Slaan ag op grense. Gemaklikheidsvlakke verskil van persoon tot persoon. Dit is hoekom ons nie naaktheid, seksuele inhoud, seksuele begeertes of op soek na seks op jou openbare profiel toelaat nie. As jy in 'n private gesprek is, is dit toelaatbaar as almal daarmee tevrede is. Toestemming maak saak.

2. Deel versigtig en bedagsaam. Moenie jou persoonlike inligting of maniere waarop mense met jou kontak kan maak in die openbaar verkondig nie (geen openbare bekendmaking van dinge soos telefoonnommers, e-posadresse of sosialemedia-gebruikersname nie). Om jou bankrekeningnommers of e-poswagwoord met mense te deel, is altyd 'n slegte idee. Moet ook nie ander mense vra om vir jou hulle persoonlike besonderhede te stuur nie. Wees versigtig – as iemand jou vra om vir hulle geld te stuur of probeer om jou te kry om 'n belegging te maak, is dit waarskynlik 'n bedrogspul.

3. Bly weg van gewelddadige inhoud. Ons bevorder positiwiteit en sal geen gewelddadige inhoud duld wat bloed, die dood, beelde of beskrywings van gewelddadige dade (teen mense of diere), die gebruik van wapens en enigiets wat selfbeskadiging voorstaan of verheerlik, bevat nie.

As ons van mening is dat daar 'n risiko van dreigende skade is, kan ons stappe neem om te help, soos om direk met krisishulpbronne uit te reik.

4. Maak persoonlike verbindings, nie besigheidskontakte nie. Moenie adverteer, promosies doen, jou sosialemedia-gebruikersname deel om volgelinge te kry, goed verkoop, fondsinsamelings of veldtogte doen nie. Dit beteken ook Tinder is nie die plek vir enige soort sekswerk, geselskapsdienste of verhoudings waarby vergoeding betrokke is nie. Dus, nee – moenie Tinder gebruik om jou vroetelmammie te vind nie.

5. Wees net jy. Mense wil die ware jy ontmoet. Nie jou vals persona nie. Moenie 'n vals rekening skep of voorgee dat jy iemand is wat jy nie is nie, al is dit net vir die pret.

6. Kommunikeer met respek. Dit kan moeilik wees om met nuwe mense te praat, veral wanneer jy met mense op alle vlakke van die samelewing omgaan. Met respek kom 'n mens ver.

As die gesprek onverwags skeefloop en jy vind dat jy ontsteld of kwaad raak – stop en besin voordat jy reageer. Teistering, dreigemente, afknouery, intimidasie, openbaarmaking van private inligting, afpersing en seksuele afpersing of enigiets wat opsetlik gedoen word om skade te berokken, word nie toegelaat nie.

Tinder is nie 'n plek vir haat nie. Ons sal nooit rassisme, onverdraagsaamheid, haat of geweld ondersteun op grond van wie iemand is, hoe hulle identifiseer of hoe hulle lyk nie. Dit sluit in (maar is nie beperk nie tot) iemand se ras, etnisiteit, nasionaliteit, immigrasiestatus, kaste, godsdiens, genderidentiteit, seksuele oriëntasie, gestremdheid, liggaamstipe of gesondheidstatus. As jy iemand sien wat nie aan jou persoonlike kriteria voldoen nie, moet dan nie van hulle hou nie of kanselleer hulle as pasmaat en beweeg aan. Moet hulle nie rapporteer nie, tensy jy dink hulle het ons beleide oortree.

7. Lei met vriendelikheid, nie skade nie. Enige handelinge of gedrag wat skade aan 'n ander lid suggereer, beoog of veroorsaak – hetsy aan- of aflyn, fisies of digitaal – sal in 'n baie ernstige lig beskou word. Dit sluit enigiets in wat 'n oproep tot skade of aanhitsing uitmaak.

As jy deur iemand op Tinder seergemaak is: eerstens, sien na jouself om, en tweedens, neem tyd om te besluit wat jy nodig het om heling te bewerkstellig, ongeag of dit aanspreeklikheidstappe, openbaarmaking, ondersteuning of al die bogenoemde is. As dit insluit om die skade by ons aan te meld, reik asseblief uit. Ons is hier vir jou.

8. Slegs volwassenes. Jy moet 18 jaar oud of ouer wees om Tinder te gebruik. Dit beteken ook dat ons nie foto's van onbegeleide of ongeklede minderjariges toelaat nie, met inbegrip van foto's van jou jonger self – ongeag hoe oulik jy destyds was.

9. Hou by die wet. Geen onwettige inhoud of aktiwiteite word ooit toegelaat nie. Dit beteken jy kan nie Tinder gebruik om dwelms of vervalste goedere te koop of te verkoop nie, of om vir hulp te vra vir jou om die wet te oortree nie. Ons sal beslis nie duld dat enigiemand Tinder gebruik om voorspraak te maak vir of deel te neem aan enige vorm van skade waarby minderjariges of mensehandel betrokke is nie.

10. Een persoon, een rekening. Elke rekening kan slegs een eienaar hê. Om logistieke en privaatheidsredes kan ons nie ondersteun dat veelvuldige mense toegang tot dieselfde rekening het nie – elke individu moet hulle eie hê. Een persoon kan ook nie meer as een rekening op 'n slag hê nie.

11. Dit is jou ruimte, plaas jou eie inhoud. Moenie foto's of private boodskappe van ander mense plaas nie, tensy jy toestemming ontvang het om dit te doen. Moenie werk plaas waarop ander outeursreg het of die handelsmerk besit nie.

12. Wees 'n goeie Tinder-gebruiker. Moenie Tinder misbruik nie. Moenie Tinder gebruik om vals of misleidende inligting te versprei nie. Moenie strooipos met skadelike webskakels of ongevraagde inhoud versprei nie. Moenie massarekeninge skep nie. Moenie Tinder gebruik om mense te manipuleer, te bedrieg of te kry om vir jou geld of enigiets anders te stuur nie. Dit is goed om met jou vriende en familie te praat oor mense wat jy ontmoet, maar moenie iemand anders se inligting in die openbaar deel nie. Moenie vals, misleidende of kwaadwillige verslae indien nie. Moenie derdeparty-toepassings of ander tegnologie gebruik om kenmerke te ontsluit of die stelsel te omseil nie. Moenie teister, dreig of hierdie reëls andersins oortree wanneer jy direk met Tinder, Match Group of sy geaffilieerdes praat nie.

13. Bly aan die gang om aktief te bly. As jy oor 'n tydperk van twee jaar nie by jou Tinder-rekening aanmeld nie, sal ons aanvaar dat dit nie gebruik word nie en kan dit weens onaktiwiteit uitvee. As jy dus in die toepassing gesien wil word, teken net van tyd tot tyd aan.

Rapportering

Ons moedig jou as 'n lid van die Tinder-gemeenskap aan om te praat en jou stem te laat hoor. As iemand jou skade berokken of ons gemeenskapsriglyne oortree – meld dit aan. Jou verslag word altyd as vertroulik hanteer. Deur dit te rapporteer, kan jy ons help om skadelike gedrag te stop en ander te beskerm.

Impak

Ons neem ons Gemeenskapsriglyne en die impak wat dit op ons gemeenskap het ernstig op. Ons sal alles in ons vermoë doen om seker te maak dat mense dit nakom. Ons gebruik 'n waarskuwingstelsel, maar as oortredings voortduur of as die oortreding ernstig is, sal ons dienooreenkomstig reageer.

Ons behou die reg voor om rekeninge te ondersoek en/of te beëindig sonder terugbetaling van enige aankope as ons vind dat jy die Diens misbruik het of jou op 'n wyse gedra het wat Tinder as onvanpas, onwettig of strydig met ons Gemeenskapsriglyne of Gebruiksvoorwaardes ag, waaronder optrede of kommunikasie wat buite die Diens plaasvind, maar wat andere betrek wat jy deur die Diens ontmoet.

Enige vrae? Almal het minstens een.

Besoek Algemene Vrae

Jy het genoeg gelees. Gaan vind uit.

Laai Tinder af

Jy het genoeg gelees. Gaan vind uit.

Laai Tinder af